Papierbraai – wanneer 'n koerant goeie nuus is
Deur Rean Steenkamp
Jy is in die bos én in die moeilikheid – jy weet nog net nie hoe diep nie. Jou vuur is reg en die vrou en kinders is honger. Jy het die stuk wors opgerol, gereed om gebraai te word, die broodjies is gesmeer en alle oë is op jou gerig – die groot voorsiener. Dan die skok. Jy het die rooster vergeet. Jy het niks om die wors in of op te sit nie. En jy kan dit nie sommer so op die kole sit nie. Ramp der rampe.
Nou ja, jy kan dalk ’n paar takkies van die naaste boom afsny om deur die wors te steek. Dit kan pret wees. Almal sit om die vuur en elkeen braai hulle eie stuk wors. Dit kan nogal die gesinsbande erg versterk. Maar daar is ’n klein probleempie. Jy is nie seker watter bome giftig is nie. As jy die verkeerde boom se takkies gebruik, beland julle dalk almal in die hospitaal.
Gelukkig is jy ’n ware survivor. En jy hou daarvan om op hoogte van die nuus te bly. Vir een keer is die koerant in die motor goeie nuus. Jou daaglikse belegging in die plaaslike koerant gaan nou dividende oplewer. En dit gaan jou aansien red.
Jy sny gou-gou die wors in stukkies van 20 cm (agt duim) en draai elke stukkie styf toe in ’n bladsy van die koerant. Daarna pak jy die worspakkies in die kole.
Moenie jou deur die gesin se besware van stryk laat bring nie. Ook nie deur hulle uitroepe van afgryse wanneer jy vyf tot tien minute later die erg verbrande swart pakkies uit die kole krap nie. Gee hulle maar net ’n beterweterige glimlag, al is jy self ook nie alte seker van jou saak nie. Wees gerus, jy gaan hulle hierdie keer baie beïndruk.
Nou bring jy jou goeie en getroue knipmes te voorskyn en sny deur die lae verbrande koerantpapier. Tot jou eie verbasing sal jy sien dat ’n laag of twee teenaan die wors ongeskonde is. En as jy by die wors self kom, sal jy sien dit is eetbaar. Perfek eetbaar, om die waarheid te sê. Dit kan dalk lekkerder smaak as die wors wat jy gewoonlik oor die oop vuur laat verbrand.
As jy genoeg wit papier gehad het, sou dit selfs nog beter gewerk het. Die ink in die koerantpapier kan moontlik die smaak van die wors verander – en as jy dit baie gereeld doen, kan dit dalk nie goed wees vir jou nie. Skoon wit papier sal nie hierdie probleem veroorsaak nie.
Rol elke stukkie wors netjies toe met 'n bladsy uit 'n koerant.
Rol dit toe in 'n tweede bladsy.
Plaas die worspakkies binne in die vuur.
Krap vyf tot tien minute later die pakkies uit die vuur.
Sny dan die verbrande papier weg. Die buitenste lae sal erg gebrand wees, maar binne sal nog lae wees wat glad nie gebrand het nie.
Die wors sal gaar en gereed wees om te eet.