top of page

Hoe om ’n nooddraagbaar te maak

IMG_1777.JPG

Viktor Kuhn, gevorderde lewensondersteuningsparamedikus en oorlewingsdeskundige beskryf hoe om ’n nooddraagbaar in die veld te maak.

 

As ons aan ’n ongeval in die veld dink, is ons geneig om op die mediese behandeling te fokus en noodhulp toe te pas. Ons dink selde aan hoe om die beseerde persoon te vervoer. Met vandag se sellulêre kommunikasie en met die meeste plekke wat per pad bereikbaar is, word dit dikwels as vanselfsprekend aanvaar dat vervoer slegs ’n foonoproep en ’n kort entjie per pad ver is.

 

Ons vergeet dat ons as jagters en vissermanne onbereikbare en afgeleë plekke opsoek. Ons reis na gebiede waar die stilte nooit deur die geskril van ’n selfoon onderbreek word nie en die landskap nie die letsels van ’n teerpad dra nie. Ons gaan soontoe om weg te kom van Blackberry, iPod, Facebook, SMS en epos. In hierdie omgewing voel ons vry en gelukkig, maar groter vryheid bring groter risiko. In hierdie situasie kan ’n ongeval en die vervoer van die ongeval ’n krisis raak.

 

Dis nie noodwendig ’n ernstige besering wat veroorsaak dat ’n persoon immobiel raak en nie op sy eie kan beweeg nie. Bloot ’n verstuite enkel kan dit tot gevolg hê. Dit kan redelik maklik wees om iemand op jou rug of in jou arms te dra as jy in jou woonkamer is, maar om dit teen ’n hoogte op of oor golwende terrein te doen is feitlik onmoontlik. Dit is waar die tuisgemaakte (of liewer, bosgemaakte) draagbaar sy gewig in goud werd is. Dit sal twee mense in staat stel om ’n derde persoon te dra, of ’n enkele persoon in staat stel om ’n ander een op ’n slee te sleep.

 

Om ’n draagbaar saam te piekel as jy jou in die gramadoelas begewe, is buite die kwessie. Dit sal baie gou swaar en lomp raak. Jy kan egter ’n draagbaar in die veld aanmekaarslaan met gereedskap wat elke buitelugmens by hom behoort te hê. Al wat nodig is, is ’n paar kledingstukke, verkieslik hemde, maar ’n ekstra langbroek en bosbaadjie sal net so goed werk. ’n Goeie sny-apparaat soos ’n kapmes of groot jagmes en ’n goeie skeut verbeelding sal jou pogings verder aanhelp.

 

Sny eers twee sterk pale of stokke ongeveer die lengte van jou pasiënt. Hulle moet dik genoeg wees om die pasiënt se gewig te dra, maar nie so groot dat hulle uitermate swaar gaan wees nie. Dunner takke kan aan die stokke vasgemaak word om hulle te versterk deur stroke lap uit die onderkant van jou T-hemp te sny.

IMG_1727.JPG
IMG_1736.JPG

Jy het nie baie gereedskap nodig nie.

Sny twee stokke omtrent solank as wat die pasiënt is.

IMG_1746.JPG

Plaas die stokke in die lengte langs mekaar op die grond en ryg hulle deur die hemde van die onderkant af en uit deur die moue. Doen dieselfde as jy bosbaadjies het.

IMG_1761.JPG

Die kopkant van die draagbaar kan dan met ’n rugsak of iets anders bedek word om die pasiënt gemaklik te maak. Hoe goed die draagbaar gaan werk, sal van die vakmanskap afhang, maar as dit goed gedoen is, is dit heeltemal effektief.

IMG_1782.JPG

Dit is nie ’n toestel om ’n persoon met ’n rugbesering mee te immobiliseer nie. Dit is bedoel as ’n effektiewe middel om ’n beseerde persoon vervoer. Ons sal in toekomstige artikels oor die behandeling van spesifieke beserings en skete skryf.

bottom of page