top of page

Hitte wat doodmaak

Hitte-uitputing-123rf.jpg

Peter Steyn

 

Let wel: Hierdie inligting vervang nie mediese advies nie en geen aanspreeklikheid hoegenaamd kan aanvaar  word vir die gebruik van hierdie inligting wat nie die gewenste uitwerking het nie.

 

 

Dit is lente en daar is meer tyd om buite in die natuur deur te bring. Of jy ’n dagstap of ’n jagtog gaan aanpak, die lugtemperatuur is besig om te styg. Wees op jou hoede: Net soos koue kan hitte ’n mens ook doodmaak.

 

Daar is twee hoofsoorte hittesiekte: sonsteek en hutte-uitputting kom voor as die liggaam oorverhit. Kom ons praat oor hierdie twee toestande afsonderlik. Sonsteek is die ernstigste van die twee.

 

HITTE-UITPUTTING

Dit kom voor met langdurige blootstelling aan ’n baie warm, vogtige klimaat, geen vervanging van vloeistof en ’n lang tydperk van vloeistofverlies as gevolg van oormatige sweet. Die toestand kan vererger as die persoon braak en diarree het.

 

Tekens en simptome

’n Algemene gevoel van ongemak en siekerigheid saam met dors is die belangrikste en algemeenste tekens. Daar is ook die volgende:

 

• Naarheid en braking

• Angstigheid

• Verlies van eetlus

• Floute

• Spierkrampe

• Hoofpyn

• Vinnige pols

• Swak spierkoördinasie

• Kolle voor oë as persoon vinnig opstaan of gaan lê

 

Behandeling

Die beste behandeling is om uit die son te kom, weg van die hitte in ’n koel omgewing. Rus is ook baie belangrik. Dien dan vloeistowwe mondelings of binneaars toe om sweet aan te help en voeg ’n kwartteelepel sout by elke 500 ml water.

 

 

SONSTEEK

Sonsteek is die gevaarlikste van die twee toestande. Dit kan noodlottig wees en moet so gou moontlik behandel word. Dit kan voorkom wanneer ’n persoon in ’n baie warm omgewing ’n inspannende aktiwiteit beoefen en nie van die hitte ontslae kan raak wat sy liggaam genereer nie. Die kerntemperatuur van die liggaam styg tot 39-41 °C. Die hart, selfunksie en die sentrale senuweestelsel word onderdruk. Die dood kan intree indien die kerntemperatuur nie verlaag word nie. Die styging in liggaamstemperatuur sal uiteindelik tot nier-, lewer- en breinskade lei. Die liggaam se metaboliese tempo styg met 13% vir elke graad styging in temperatuur.

 

Tekens en simptome

Die tekens en simptome is soortgelyk aan dié van hitte-uitputting, maar is ernstiger en kan noodlottig wees.

 

• Diarree

• Warm en droë vel

• Lae bewussynsvlak

• Vinnige pols

• Kortasemigheid

• Lae bloeddruk

• Stuiptrekkings 

• Hoë temperatuur

• Naarheid en braking

• Vergrote pupille

 

Behandeling

Koel die persoon so gou moontlik af met ’n koue, nat hemp of laken. Waai hom koud met ’n tydskrif, hoed of stuk karton. Sy temperatuur moet afkom tot 38 °C. Die persoon kan erg begin bewe. Dit moet in bedwang gebring word, aangesien dit die liggaamstemperatuur sal laat styg. Die persoon moet so gou moontlik na ’n hospitaal geneem word. ’n Ongewone teken om voor op die uitkyk te wees is die afwesigheid van sweet.

 

Voorsorgmaatreëls

Om op jou hoede en voorbereid te wees kan jou lewe red. Hier is ’n paar voorsorgmaatreëls wat jou kan help.

 

• Rusperiode – Fisiese fiksheid kan tot jou voordeel wees. Rus elke 30 minute en jy kan geleidelik vorder tot ’n 10-minuut-rustyd elke uur.

• Sonlig – Bly uit direkte sonlig; probeer soveel moontlik in die koelte bly.

• Vloeistowwe – Op warm en vogtige dae is die inname van soute (isotopies of hipotonies) en die inname van voldoende vloeistowwe baie belangrik.

• Akklimatiseer – In ’n baie warm klimaat is dit moeilik om jou normale fisiese vermoë te handhaaf en kan jy maklik uitgeput raak.

• Ontwatering – Jy kan baie water verloor as gevolg van oormatige sweet, braking en diarree. Dit word hier onder verder beskryf.

• Humiditeit en hoë temperature – As die humiditeit hoër as 60% en die temperatuur baie hoog is, kan sonsteek ’n gevaar word. Dit gebeur omdat die liggaam nie sy eie temperatuur deur middel van sweet kan kontroleer nie.

• Kleredrag – Dit is beter om lospassende klere in ligte kleure te dra. Donker kleure en sintetiese stowwe hou die hitte binne.

 

Ontwatering

Dié toestand word veroorsaak deur ’n verlies aan liggaamsvloeistof. Dit word in persentasies geskat.

 

By 5% ontwatering

• Hoofpyn begin

• Droë mond 

• Min urine word uitgeskei

 

By 10% ontwatering

• Velelastisiteit verminder

• Oë sak weg in oogkaste

 

By 15% ontwatering

• Vinnige polsslag

• Kortasemigheid

• Geen urine

• Skerp daling in bloeddruk

 

Onthou om 1.5 liter vloeistof in te neem vir elke 2 liter wat jy verloor. Sonder water kan ’n mens ongeveer 2½ dae by 48 °C oorleef as jy heeltyd in die koelte rus. In uiterste oorlewingstoestande by ’n temperatuur van 48 °C en met 2 liter water  kan jy moontlik sowat 56 km te voet aflê en ongeveer 3 dae uithou.

 

 

Onthou: MOET NOOIT WATER VERMORS NIE

 

In die bos moet jy altyd water wat jy uit ’n staande bron gekry het, kook of behandel voordat jy dit kan drink.

 

Wees altyd voorbereid, sit ’n hoed op en vat altyd genoeg water saam as jy uitgaan in die bos. 

Waterdrink-123rf.jpg
bottom of page