top of page

Maak 'n blikkie-mes vir 'n noodgeval

 

Deur Rean Steenkamp

 

Jy het gaan kamp en jy het ’n mes nodig, maar jy het vergeet om een in te pak. Wat nou? Hoe sny jy die vleis wat jy in die braaipan op die vuur wou braai? Hoe skil jy ’n vrug, hoe sny jy ’n tou?

 

Jou mes kan stomp wees omdat jy iets ander moes sny of omdat jy vergeet het om dit skerp te maak. Jou vrou staan en wag dat jy die vleis in kleiner stukkies moet sny vir haar beplande roerbraai. Jou duur jagmes, die een wat jy gesê het baie praktiese nut het, gly net onskadelik oor die vleis!

 

Moenie moed verloor nie. As jy ’n blik van die een of ander aard by jou het, kan jy die situasie – en jou aansien – red. Trouens, jy kan die situasie tot jou voordeel benut en jou vrou beïndruk deur ’n geïmproviseerde, Survivor-styl stuk snygereedskap te maak – ’n blikkie-ulu.

 

Wat is ’n ulu? vra jy nou. Die een wat ek hier gaan beskryf wat ’n mens self kan maak, is taamlik primitief en eintlik net ’n blikkie-mes vir ’n noodgeval. Die “real McCoy” is egter ’n baie indrukwekkende stuk gereedskap.

 

Die Alaskiese ulu-mes word reeds eeue lank deur die inheemse bevolking van die Arktiese gebied gebruik; daar is ulu’s gevind wat tot so vroeg as 2500 v.C. dateer. Die tradisionele ulu is gemaak met ’n handvatsel uit die horing van die kariboe en ’n lem van leiklip, vanweë die gebrek aan metale in die Arktiese gebied. Die hef is ook uit been gekerf en selfs uit hout wanneer dit beskikbaar was. In sekere gebiede, soos die Ulukhaktok Noordwestelike Gebiede, is die lem van koper gemaak. Die ulu word nog steeds gebruik vir sulke uiteenlopende take soos om diere af te slag en skoon te maak, ’n kind se hare af te sny, kos op te sny en selfs om ysblokke af te werk vir die bou van igloes.

 

Die inheemse bevolking het die been- en ivoor-handvatsels van hulle ulu’s versier met kunstige kerfwerk van diere en tonele uit die alledaagse lewe. Hierdie antieke artefakte het belangrike versamelaarsitems geword, en baie daarvan word in museums in Alaska bewaar.

 

Die grootte van die ulu was gewoonlik ’n aanduiding van die doel waarvoor dit gebruik is. ’n Ulu met ’n 5 cm-lem (2 duim) sou gebruik word as deel van ’n naaldwerkstel om senings mee te sny, terwyl een met ’n lem van 15 cm (6 duim) vir algemene doeleindes gebruik sou word. Daar is ook van tyd tot tyd ulu’s met lemme van tot 30 cm (12 duim) gevind.

 

Daar is twee duidelik onderskeidbare ulu-style, naamlik die Inupiat (of Alaskiese) en die Kanadese styl. In die lem van die Inupiat-styl is daar ’n gedeelte in die middel uitgesny en beide kante van die lem pas in die handvatsel. In die Kanadese styl word die lem gewoonlik met ’n enkele steel in die middel aan die handvatsel geheg.

In die westelike gebied van die Kanadese Noordpoolstreek is die lem van die ulu dikwels driehoekig, terwyl die kante van die lem in die oostelike gebiede meer gepunt is.

 

Die ulu is tradisioneel van die een geslag na die ander oorgedra. Daar is geglo dat die voorouer se kennis in die ulu vervat is en dus ook deurgegee word. Die vorm van die ulu lei daartoe dat die krag meer oor die middel van die lem gesentreer is, anders as in die geval van ’n gewone mes. Dit maak die ulu maklik om te gebruik vir die kap van harde voorwerpe soos been.

 

Die ulu is vandag ’n bekende gesig in baie moderne kombuise, en sy gebruike is so uiteenlopend soos die mense wat hom gebruik. Die ulu verrig alle kombuistake met ongeëwenaarde gemak en doeltreffendheid – van die kap van neute tot die sny van kaas en vleis. Die ulu se unieke ontwerp lei tot groter behendigheid en hefboomwerking, wat fyn en swaarder opkapwerk eenvoudig en maklik maak.

Dit bring ons terug by die blikkie-ulu. Dit is waarskynlik nie so sterk of so esteties aantreklik soos die antieke ulu’s of hulle moderne weergawes nie, maar is nogtans heeltemal nuttig om te gebruik.

 

Om ’n blikkie-ulu te maak het jy die boonste gedeelte van ’n blikkie nodig (Foto 1) – dis die ronde stuk (die deksel) wat jy afsny om die blikkie oop te maak en dan in die asblik gooi. Jy het ook ’n stuk tou en ’n gesplete tak nodig (Foto 2).

Buig die boonste gedeelte van die deksel om soos in Foto 3 getoon. Jy kan dit gewoonlik met die hand doen, maar werk versigtig sodat jy jou nie met die skerp kant sny nie.

 

Neem twee verkieslik plat stukkies hout en plaas die omgebuigde kant van die blikdeksel in die middel van die hout. As jy nie twee plat stukkies plank het nie, kan jy ’n droë tak splyt en die blikdeksel tussen die twee gedeeltes plaas (kyk Foto 4 en 5).

Bind nou die twee stukkies aan mekaar vas met tou (kyk Foto 6). As jy nie ’n tou het nie, kan jy een maak van die vesels van ’n boom net onder die bas of van stroke wat jy uit ’n hemp of ’n ander stuk lap skeur. Met hierdie “blikkie-mes” (Foto 7 en 8) kan jy ’n dier afslag, vleis of vrugte opsny of groente kap. Die getande kant van die blik is ongelooflik skerp. Toe ek dit gebruik het om ’n stuk blouwildebeessteak te sny, het dit die vleis net so maklik gesny soos ’n steakmes (Foto 9 tot 10). Dit het ook heeltemal goed gewerk met ’n mango (Foto 11 en 12).

 

Jy hoef nie die oorlewende van ’n vliegramp of ’n skipbreukeling te wees om een te maak nie. Doen dit net vir die pret – dit sal vir seker ’n indruk maak op jou seun.

1

2

3

4

5

6

7

8

9

10

12

11

bottom of page