top of page

DIE VUURSILINDER

Pic1.jpg

DR WALLACE VOSLOO

 

Dis verstommend dat die eerste vuursilinder reeds eeue voordat wetenskaplikes soos Boyle die idealegaswet geformuleer of die idee van ’n dieselenjin uitgedink het, reeds in suidoos-Asië, Indonesië en die Filippyne gebruik is om vuur te maak. Die beginsel om lug deur middel van kompressie te verhit en tontel aan die brand te steek, is per ongeluk in die vroeë 1800’s in Europa deur ’n Franse vervaardiger van luggewere “herontdek”. Hy het ’n luggeweer in die donker afgevuur en toe opgemerk dat daar lig by die bek van die loop uitgekom het. Dit het gelei tot die ontwikkeling van die vuurspuit, wat wyd gebruik is in Europa voordat houtvuurhoutjies gewild geword het.

 

 

Basiese teorie waarop ’n vuursuier werk

Die basiese werking van die vuursuier kan verduidelik word met behulp van Boyle se idealegaswet-vergelyking en die diagram hier onder:

 

Wanneer ’n vaste volume lug vinnig deur ’n suier in ’n silinder saamgepers word, word die volume (V) verminder en die druk (P) beduidend verhoog. Die getal mol gas (n) en die universele gaskonstante (R) bly onveranderd. Gevolglik word die meeste van die arbeid wat verrig is deur die vuursuier vinnig af te druk, in hitte omgesit, wat die temperatuur (T) met minstens ’n ordeklas verhoog. Die gevolg van hierdie hoë lugtemperatuur is dat die tontelfungus vlampunt bereik en ’n klein ontploffing in die silinder veroorsaak. Wanneer die suier vinnig verwyder en die tontelfungus aan suurstof blootgestel word, word ontvlammingspunt en ’n termiese wegholreaksie bereik. Dit veroorsaak dat ’n kooltjie gevorm word, reg om ’n vuur mee te begin.

 

Ja, lug word baie warm as dit onder hoë druk saamgepers word. ’n Goeie voorbeeld is die hitte wat ontstaan wanneer ’n fietspomp gebruik word.

Maak ’n vuur met die vuursuier

 

Stap 1

Maak seker dat die suier knus in die silinder pas. Dit moet goed gesmeer wees (gebruik petroleumjellie) en lug moet nie by die verseëlring kan ontsnap nie. Om seker te maak hiervan, stoot die suier in – dit moet voel asof jy sonder weerstand teen ’n lugborrel druk. As jy die suier uittrek, moet dit ’n plofgeluid maak as dit uit die silinder kom.

Vuursilinder skets in Afrikaans.jpg

Stap 2

Maak nou die tontelnessie. Gebruik ’n stukkie hennep en pluis dit in stukkies soos watte (foto a). Fatsoeneer nou die gepluisde hennep in die vorm van ’n voëlnessie (foto b) en plaas ’n stukkie halfverbrande lap (foto c) in die middel. Jy is nou gereed om die gloeiende kooltjie te maak met die vuursuier wat saam met die stuk lap in die tontelnessie gebruik gaan word om die vuur te begin. Jy kan ook jou pyp met die kooltjie opsteek. 

L.W. ’n Halfverbrande lap is ’n stukkie katoenlap wat verhit is, ontneem is van suurstof en so verander is in ’n vorm van “katoenhoutskool”. Dit kan met ’n baie klein kooltjie aan die brand gesteek word; selfs ’n vonkie is goed genoeg.

 

As jy in die veld is, kan jy die hennep en halfverbrande lap met fyn, droë brandhoutjies vervang wat daar beskikbaar is.

Step 2.jpg

Stap 3

Breek ’n klein stukkie van die tontelfungus af (foto a), net groot genoeg om in die gat voor aan die suier te pas. Stoot die stukkie fungus in die gat en breek dit in kleiner stukkies met jou vingernael. Maak seker dat die fungus goed vassit, maar nie te styf nie (foto b).

 

Jy weet nie wat tontelfungus is nie? Dit staan ook bekend as amadou, hoeffungus of wetenskaplik as Fomes fomentarius (foto a). Dit word al eeue lank gebruik om mee vuur te maak. Die fungus word voorberei deur dit ’n paar dae lank stadig in urine te kook. Die kook in urine veroorsaak dat die fungus met salpeter versadig word (jy kan dit ook in kaliumnitraat kook). Daarna word die fungus afgedroog, in dun skyfies gesny en platgemaak met ’n stuk hout totdat dit gereed is om te gebruik.

 

Die egte tontelfungus word in foto b getoon. Dit staan ook bekend as klinkerfungus. In Rusland word dit chaga genoem, met wetenskaplike naam Inonotus obliquus. Hierdie fungus groei normaalweg op lewende berkebome. Die buitekant is hard en swart, en die binnekant ’n sagter rooibruin en kurkagtig. Dit word as die egte tontelfungus gebruik. As dit smeul, gee dit ’n lieflike aroma af. Die vlampunt is gewoonlik 280 °C, wat dit ideaal maak vir gebruik as tontel in die vuursuier.

Step 3.jpg

a   

b

Step 3-b.jpg

a   

b

Stap 4

Plaas die suier in die silinder met die verseëlring net-net aan die binnekant. Hou die suier stewig met jou linkerhand vas en slaan dan hard en vinnig met die palm van jou regterhand op die suier (foto a en b). Gryp die suier se handvatsel vas en trek die suier vinnig uit die silinder (foto c). Draai die suier na jou toe en blaas liggies op die tontelfungus. As alles reg verloop het, sal ’n rooiwarm gloeiende en rokende kooltjie vorm (foto d). As daar nie ’n kooltjie ontstaan nie, herhaal stap 4 tot dit gebeur.

 

As jy dit probeer het en die palm van jou regterhand is blou en seer, het iets klaarblyklik verkeerd geloop. Maak seker van stap 1, herhaal dan stap 3 en probeer weer stap 4. Slaan die suier harder en vinniger. 

 

Daar is ’n ander opsie as jy in ’n noodtoestand verkeer. Gebruik ’n stukkie halfverbrande lap in die suier in plaas van die tontelfungus. Dit sal ook werk, maar sal op die lange duur die silinder besoedel. 

 

Nou is jy gereed om te begin vuur maak.

Step 4.jpg

Stap 5

Plaas die gloeiende kool op ’n stuk verbrande lap in die tontelnessie en blaas liggies daaroor. Dit sal die lap aan die brand laat slaan (foto a). Vou die tontelnessie oor die gloeiende lap en hou aan om lug in die nessie in te blaas (foto b). Die tontelnessie sal begin rook. Blaas harder en harder. Moenie ophou voordat die nessie nie skielik in vlamme uitbars nie (foto c). Jy het nou vlamme om ’n groot vuur mee te maak. Al wat jy nou moet doen, is om die brandende tontelnessie in die stapel vuurmaakhout te plaas wat jy reeds gepak het. En daar het jy dit – ’n vuur wat met ’n vuursuier gemaak is.

Step 5.jpg

Die vuursuier is ’n elegante, oeroue manier om ’n tradisionele vuur te maak en sal jou ’n hele paar jaar se goeie diens lewer. Kinders jonk en oud is gefassineer deur sy werking. Die vuursuier is ’n praktiese en doeltreffende manier om ’n vuur in die veld aan die gang te kry.

 

L.W. Jy kan ’n volledige vuursuierstel, soos dit in hierdie artikel beskryf is, bestel by Gavin “Slow Match” Margrate by e-posadres plumcrazy@absamail.co.za of skakel hom by +27 (0)82 469 3236.

 

Ons dank aan dr. Riana Geschke vir die foto’s, my vennoot, Wessel Croukamp, wat met die vuurmaak gehelp het, dr. Igor Gutman “Wild African Man”, wat die egte tontelfungus (chaga) uit Rusland verskaf het, en dr. Peter Mallon, wat die vlampunt bepaal het. 

bottom of page