Selfstandigheid
Wonderlik of wreed
Daar wag ’n wonderlike wêreld vir ons in die toekoms... of daar wag hel. Ons kan nie op dié stadium voorspel wat dit gaan wees nie. Ek hou egter daarvan om positief te wees en sal baie graag eerder wil sien dat die wêreld waarin my kinders agterbly, beter is as die een wat ek eendag agterlaat.
Dat dit vandag beter met ons gaan as voorheen, is gewis. Jou kinders gaan nie sommer dood van longontsteking nie, melaatsheid het bykans verdwyn en so ook siektes soos pokke. Ek dink aan iets soos ’n nekoperasie. Twee mense wat ek ken, het so pas ’n nekoperasie ondergaan om senuwees wat vasknyp en nekkussinkies wat gebars het, reg te stel, naamlik my suster en ’n baie goeie vriend. Albei het baie pyn gehad weens dié probleem. Daar is skynbaar verskeie probleme wat veroorsaak kan word deur die neksenuwee wat vasgeknyp word, soos erge hoofpyn of ’n ledemaat wat verswak. Ná die operasie is my suster en vriend weer sonder pyn en kan hulle bykans soos voorheen met hulle lewe voortgaan. Wat sou ’n honderd jaar gelede gebeur het? Hulle sou albei maar net die pyn en ongerief moes aanvaar en vrede maak daarmee.
In die verlede moes mense met baie gebreke en skending saamleef wat vandag herstel kan word. Baie mense kan gehelp word om misvorming as gevolg van siektes en ongelukke te herstel. Ek sal nooit Heinz Konsalik se boek Die geskende gesig vergeet nie. In dié boek skryf hy oor ’n man wie se gesig baie erg deur ’n landmyn vermink is. Na die oorlog is sy gesig egter bykans heeltemal deur snydokters herstel. Net ’n paar littekens het oorgebly en hy kon weer met ’n normale lewe voortgaan.
Dinge het werklik vooruitgegaan vir mense wat redelik welvarend is. Dit is so dat mense in onderontwikkelde lande nie voordeel kan trek uit baie van die nuwe ontwikkeling nie en bykans nog leef soos mense van een of twee honderd jaar gelede. In die meeste ontwikkelde lande het lewensomstandighede egter al hoe meer verbeter – wat mense se gesondheid betref en ook hul gerief. Daaroor kan ons nie twyfel nie.
Gaan dit ook so wees in die toekoms? Gaan dinge net al hoe beter word? In baie opsigte klink dit so. Daar is al tegnologie wat in selfone gebruik kan word wat mense se siektes kan diagnoseer, motors wat hulleself bestuur en ontelbare ander wonderlike dinge wat ons oën- skynlik in ’n wonderlike era kan inlei.
Aan die ander kant lyk dit asof rekenaars en robotte werkloosheid gaan meebring; hulp- bronne raak uitgeput; nuwe siektes wat bestand is teen antibiotika ontwikkel; die natuur raak onder al hoe groter druk; die wêreld word warmer; radikalisme neem toe en daar is kommer oor ’n volgende groot oorlog wat kan uitbreek – veral indien meer lande atoombomme ontwikkel.
In Spreuke staan daar dat dit goed gaan met die mens wat hard werk, sy pad vorentoe beplan en op die Here vertrou. Dit is egter ook duidelik dat al die beplanning tot niks kom indien God dit nie seën nie. Ons bly dus van die Here afhanklik en moet op Hom vertrou. ’n Mens kan nie die toekoms voorspel nie, behalwe indien die Here dit aan hom of haar openbaar. Net God weet wat vir ons wag, en om ons te veel daaroor te kwel gaan ons vroeg oud maak.
Die verlede is verby en ons kan nie daaraan verander nie. Ons moet nie die vreugdes wat ons nou beleef, miskyk omdat ons ons geluk in die toekoms sien nie. Dit wat ons nou doen, bepaal in elk geval tot ’n groot mate ons toekoms.
Niemand weet wat in die toekoms gaan gebeur nie, maar as jy sekere tendense ontleed, kan jy waarskynlik ’n redelik akkurate skatting doen.
Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum (wat so ongeveer drie jaar gelede in Davos gehou is) se globalerisikoverslag is die vyf grootste spoke om voor bang te wees grootskaalse migrasie, ekstreme weer- stoestande, mislukte pogings om die uitwerking van klimaats- verandering te verminder of om daarby aan te pas, konflik tussen state met die plaaslike gevolge en groot natuurrampe.
Kuberaanvalle, diepgaande sosiale onstabiliteit, kommer oor werkloosheid, energie-prysskokke en fiskale volhoubaar- heid is almal bangmakers, maar die sogenaamde vierde indus- triële revolusie se invloed op die ekonomie en die samelewing het waarskynlik eerste plek gewen as skrikmaker by die Forum in Davos.
Wanneer ’n mens ontledings oor die toekoms doen, is die gevolgtrekking wat jy bereik tans effens onstellend, maar daar is ook baie goeie dinge om na uit te sien. Jy voel dan dat dit bykans onmoontlik is om vooruit te beplan, aangesien daar te veel veranderlikes is wat in berekening gebring moet word. Ons weet eenvoudig nie watter nuwe tegnologiese ontwikkelinge gedoen gaan word nie en ons weet ook nie wat die gevolge van vooruitgang gaan wees indien dit plaasvind soos vooruitskou- ings voorspel nie. Wat goed en wat sleg gaan wees, is onduide- lik. Daar gaan waarskynlik van albei wees.
Toe die Wright-broers hul eerste vlug onderneem het, het min mense gedink dat daar binne ’n kort tydperk met vliegtuie in die lug oorlog gevoer sou word of dat stralers wat etlike ton weeg die hele lugruim met hordes passasiers sou deurkruis. Daar was baie invloedryke mense wat nie veel ag op dié drie broers se prestasie geslaan het nie en wat nie veel nut daarin vir die toekoms voorspel het nie.
Toe jy ongeveer twintig jaar gelede jou eerste Nokia-selfoon in jou hand vasgehou het, het jy nie kon dink jy sou twee dekades later hoëresolusiefoto’s en video’s daarmee neem, dit gebruik om rigting te hou, roetes te beplan, en boodskappe te stuur of dat dit eintlik ’n minirekenaar sal wees nie – ’n duisend keer intelligenter en vinniger as die rekenaar waarmee jy by jou werk of huis gewerk het – of dat jy op die internet daarmee sou werk of eposse stuur, of dat jy met ’n toepassing (application) met iemand oorsee sou kon praat en julle mekaar op die skerm sou kon sien nie.
In 1998 het nie minder nie as 170 000 mense by Kodak gewerk en het die maatskappy 85 persent van alle fotopapier wêreldwyd verkoop. Binne ’n paar jaar het hul sakemodel ver- dwyn en is hulle bankrot verklaar. Wat met Kodak gebeur het, sal met ’n baie ander nywerhede in die volgende 10 jaar gebeur, en die meeste mense in dié bedrywe is heeltemal onbewus daarvan. In die toekoms sal selfs elektroniese kameras onnodig word, aangesien mense hul slimfoon kan gebruik en net sulke goeie of beter foto’s en video’s neem. My iPhone 6 neem reeds hoër-resolusiefoto’s en beter beeldmateriaal as enige kamera of videokamera wat ek in die verlede besit het.
Wie het in 1998 kon dink dat mense drie jaar later nie meer foto’s op film sou vaslê nie? Digitale kameras is al in 1975 uit- gevind, maar die beeldresolusie was baie laer as dié van foto’s wat van fotofilm verkry is. Soos die geval is met die ontwikke- ling van tegnologie, was dit aanvanklik ’n teleurstelling, totdat dit binne net ’n paar jaar vinnig ontwikkel het en toe die mark oorgeneem het. Dieselfde sal waarskynlik gebeur met kunsmatige intelli- gensie, gesondheid, outonome en elektriese motors, onderwys, 3D-druk, landbou, werk en nog vele ander belangrike dele van die daaglikse lewe. Sagteware sal die meeste tradisionele nywerhede in die volgende 5 tot 10 jaar ontwrig. Uber is net ’n tool en hulle besit nie enige motors nie, maar tog is hulle die grootste taxi-maat- skappy in die wêreld. Airbnb is nou die grootste hotelmaatskappy in die wêreld, maar hulle besit nie geboue nie! Rekenaars word al hoe slimmer en verstaan al hoe meer hoe die wêreld werk. Vanjaar het ’n rekenaar reeds daarin geslaag om die beste Go-speler in die wêreld te klop. Dit is 10 jaar gouer as wat verwag is.
In die VSA sit baie jong prokureurs reeds sonder werk as gevolg van IBM se superrekenaar, Watson. By Watson kry jy regsadvies (tot dusver nog net vir basiese dinge) binne sekondes met ’n 90 persent akkuraatheid – in vergelyking met 70 persent akkurate regshulp indien jy van ’n prokureur gebruik maak. Daar sal 90 persent minder prokureurs in die toekoms wees. Net spesialiste sal oorbly, word voorspel. Watson help reeds verpleegsters met die diagnose van kank- er en is vier keer meer akkuraat as verpleegsters. (Tog word gereken dat verpleging een van die veiligste beroepe in die toekoms is en dat verpleegsters nie gou deur robotte vervang gaan word nie.) Watson gaan moontlik die manier waarop mediese dienste gelewer word dramaties verander. As daar eers ’n mas- jien bestaan met diagnostiese kundigheid, geen behoefte aan slaap nie en ’n bewese rekord om gehaltesorg te verskaf, sal dit waarskynlik nie meer nodig wees dat ’n dokter elke pasiënt ondersoek nie – Watson sal in baie gevalle die diagnose net so goed kan doen.
Facebook het nou patroonherkenningsagteware wat gesigte beter as die mens kan herken. In 2030 sal rekenaars meer intel- ligent as die mens wees. Wat daarna gaan gebeur, is stof vir ’n wetenskapfiksieboek en klink vir my bra apokalipties.
Outonome motors is skynbaar ons voorland. In 2018 sal die eerste motors wat deur ’n rekenaar bestuur word, op straat ver- skynen gou motors die motorbedryf begin ontwrig. Jy sal waar- skynlik nie ’n motor wil besit nie, maar indien jy wel een het, is die kanse goed dat dit ’n elektriese sal motor wees. Elektriese motors behoort reeds in 2020 hoofstroom te raak. Stede sal dan natuurlik ook minder lawaaierig wees, want alle motors en motorfietse sal waarskynlik elektries-aangedrewe wees. Of dit in Afrika die geval sal wees, is ’n ope vraag.
Jy sal ’n motor met jou selfoon bel en dan kom laai dit jou op waar jy is – en laai jou af waar jy wil wees. Dit sal nie nodig wees om vir die motor te sê waar jy is nie, want dit sal dadelik bepaal waar jou selfoon is – jy moet net sorg dat jy naby jou selfoon bly. Indien jy egter wil hê dit moet jou op ’n ander plek oplaai, sê jy die adres en die motor weet dadelik waar om jou te kry, aangesien dit die hele tyd in verbinding met die internet is én met dieselfde satelliete wat ’n GPS gebruik. Jy het dus geen parkeerprobleme nie, jy betaal net vir die afstand wat jy ry en omdat jy nie self bestuur nie, kan jy op jou rekenaar of slimfoon werk doen terwyl jy ry.
Ons kinders sal dus nie ’n rybewys nodig hê nie en waar- skynlik ook nooit ’n motor besit nie. Omdat daar tussen 90 en 95 persent minder motors nodig sal wees, sal ons stede heelte- mal verander. Die huidige parkeerplekke en parkades sal vir iets anders gebruik kan word.
Tans sterf daar jaarliks ongeveer 1,2 miljoen mense in motorongelukke in die wêreld. Daar is tans elke 100 000 kilometer ’n ongeluk. Daar word voorspel dat hierdie syfer sal daal tot net een ongeluk per 10 miljoen kilometer wanneer alle motors outonoom aangedrewe is en ’n miljoen lewens per jaar sal só gespaar word.
Die meeste motormaatskappye sal waarskynlik verdwyn. Tradisionele motormaatskappye probeer steeds die evolusionêre benadering deur eenvoudig net beter motors te bou, terwyl teg- nologies-ingestelde maatskappye soos Tesla, Apple en Google die revolusionêre benadering volg en ’n al hoe meer intelligente rekenaar op wiele bou.
Met minder ongelukke is versekeringsmaatskappye se toe-koms ook in gedrang. Met die dramatiese afname in ongelukke sal versekering 100 keer goedkoper word. Hulle motorverseke- ringsakemodel sal uitgedien wees en verdwyn.
In ’n wêreld van self-ry-motors en groot data, slim algorit- mes en Siri, besef ons dat kunsmatige intelligensie by die dag verbeter. Hoewel al dié oulike toestelle en programme ons lew- ens makliker maak, is daar ook ’n goeie kans dat baie goeie beroepe as gevolg van hulle uitgedien gaan raak. ’n Rekenaar wat Jeopardy wen, kan soos ’n klein, hoewel indrukwekkende, prestasie lyk, maar dit is dieselfde tegnologie wat regsassistente oorbodig maak, en dit kan binne die afsienbare toekoms die- selfde doen met radioloë. En dít is sonder twyfel maar net die begin. Eiendompatrone sal verander, want as jy kan werk terwyl jy pendel, sal mense verder van hul werk kan bly om sodoende in mooier omgewings te woon.
By die huis sal elektrisiteitsvoorsiening goedkoper en skon- er word. Sonenergieproduksie is op ’n eksponensiële kurwe vir 30 jaar, maar die impak daarvan word nou eers beleef. Verlede jaar is meer sonenergietoestelle wêreldwyd geïnstalleer as fossieltoestelle. Teen die huidige tempo sal steenkoolmaatskap- pye teen 2025 nie meer ’n bestaan kan maak nie.
Met goedkoop elektrisiteit kom goedkoop en volop water. Net 2 kWh per kubieke meter is tans nodig om water te ontsout en die oseane is vol soutwater. Hoewel daar ’n waterskaarste in sommige plekke is, is dit meesal net ’n drinkwaterskaarste. Wanneer skoon water vrylik beskikbaar is, ontstaan daar baie nuwe moontlikhede wat jou en almal in jou omgewing se lew- ens baie kan verander.
Die Tricorder X-prys word vanjaar aangekondig. Daar sal maatskappye wees wat hierdie tipe mediese toestel (bekend as die tricorder uit Star Trek) bou wat met jou selfoon werk en jou retina skandeer. Dit sal ook in staat wees om jou bloedmonster te neem wanneer jy daarin blaas. Dit ontleed dan 54 biomerkers wat byna enige siekte sal identifiseer. Dit sal goedkoop wees en dus sal bykans almal op aarde binne ’n paar jaar toegang daartoe hê.
Die prys van die goedkoopste driedimensionele drukker het ook binne tien jaar van ongeveer R282 000 tot net R7 000 afgeneem. In dieselfde tyd het dié drukkers ook ’n honderd keer vinniger geword! Al die groot skoenmaatskappye gebruik al driedimensionele drukkers om skoene mee te druk.
Noodvliegtuigonderdele word reeds in afgeleë lugha- wens met 3D-drukkers gedruk. Van die ruimtestasies het nou drukkers wat die stoor van groot hoeveelhede noodonderdele onnodig maak. Aan die einde van hierdie jaar sal nuwe slimfone 3D-skanderingsmoontlikhede hê. Jy sal dan jou voete driedi- mensioneel daarmee kan skandeer en perfekte skoene by die huis kan druk. In China het hulle reeds ’n volledige driedimen- sioneel-gedrukte sesverdiepingkantoorgebou. Teen 2027 sal 10 persent van alles wat geproduseer word, driedimensioneel gedruk wees.
Dink net hoeveel werkgeleentheid sal as gevolg hiervan verlore gaan. Daar word bereken dat 70 tot 80 persent van alle poste in die volgende 20 jaar sal verdwyn. Daar sal ook baie nuwe werkgeleenthede geskep word, maar dit is nie duidelik of daar genoeg daarvan in só ‹n kort tydperk geskep sal word om die gaping te vul nie.
Kom ons bekyk die landboubedryf, waar baie mense werk gegee word. In die toekoms sal ’n landbourobot vir minder as R2 000 gekoop kan word. Boere in die Derdewêreldlande sal dan nie die hele dag op die lande hoef te werk nie, maar sal net die boerdery hoef te bestuur.
Wat is die werk van die toekoms? Hoeveel sal daar wees? En wie sal dié werk hê? Ons kan dink – en hoop – dat vandag se industriële revolusie sal ontvou soos die vorige – dat hoewel ’n paar werksgeleenthede verlore gaan, meer geskep sal word wat meegaan met die innovasies van ’n nuwe era. In Rise of the Robots voorspel die Silikon-vallei-entrepreneur Martin Ford dat dit nie die geval gaan wees nie. Met toenemende tegnologiese vooruitgang en masjiene wat na hulself omsien, word mense al hoe minder nodig. Kunsmatige intelligensie is reeds besig om gevestigde beroepe soos paralegals, joernaliste, kantoorwerkers en selfs rekenaarprogrammeerders te vervang met robotte en slimsagteware. Indien dié huidige tendens voortgaan, sal blou- en witboordjieberoepe gelyk begin verdwyn. Terselfdertyd sal huishoudings toenemend onder finansiële druk geplaas word. Die gevolge kan grootskaalse werkloosheid en ongelykheid wees, asook die inploffing van die verbruikersekonomie.
In Rise of the Robots beskryf Ford in besonderhede wat masjienintelligensie en robotika kan bereik, en hy pleit by werk- gewers, skoliere en beleidmakers om die implikasies in die gesig te staar. Ou oplossings gaan waarskynlik nie die keer die ontwrigting van tegnologieseontwrigting oplos nie. Rise of the Robots is noodsaaklike leesstof vir almal wat wil verstaan wat die versnelling tegnologie se inlvoed moontlik op die ekonomie en die wêreld waarin hul kinders gaan bly gaan wees.
Die eerste petribakkie-geproduseerde kalfsvleis is nou beskikbaar en teen 2018 sal dit goedkoper wees om te produ- seer as natuurlike vleis! Op die oomblik word 30 persent van alle landbou-oppervlakte vir beesweiding gebruik. Baie van die landbougebiede sal dan vir iets ander ingespan kan word. In Suid-Afrika sal meer plase in wildreservate of wildplase omskep kan word. Baie grond in die wêreld sal moontlik ook in natuurreservate omskep word en dit kan moontlik daartoe bydra dat minder druk op die natuur geplaas word.
Daar is ook verskeie maatskappye wat binnekort insekte- proteïen gaan bemark. Dit sal meer proteïene as vleis bevat en sal as ’n alternatiewe bron van proteïen gemerk word omdat die meeste mense nog nie van die gedagte hou dat hulle insekte eet nie.
Gepraat van ’n weersin in die eet van insekte-proteïne. Daar is reeds ’n toepassing genaamd Moodies wat kan bepaal in wat- ter bui jy is. Tot 2020 sal programme jou gesigsuitdrukkings kan lees en weet wanneer jy jok. Die toestel gaan gewis die lewe vir baie mense moeilik maak, veral diegene wat elke nou en dan met ’n wit leuentjie probeer wegkom!
Op die oomblik styg die gemiddelde lewensduur met drie maande per jaar. Vier jaar gelede was die lewensduur van die gemiddelde mens 79 jaar, nou is dit 80 jaar. Die toename styg en teen 2036 sal daar meer as een jaar se toename in lewensduur per jaar wees. Die mens se lewensduur kan dus baie toeneem tot baie meer as ’n 100 jaar.
Die goedkoopste slimfone word reeds in Afrika en Asië vir R160 verkoop. Teen 2020, sal 70 persent van alle mense slim- fone besit en dit beteken dat hulle ook dieselfde toegang tot wêreldklasonderwys sal hê.
As jy aan ’n nisrigting of loopbaan dink, vra jou af of jy dink ons sal dit in die toekoms nodig hê. As die antwoord ja is, moet jy vra hoe jy kan maak dat dit gouer gebeur. As dit nie met jou selfoon werk nie, vergeet dan maar van die idee! Enige idee wat vir sukses ontwerp is met 20ste-eeuse denke is gedoem tot mislukking in die 21ste eeu, word daar gesê.
Skynbaar is beroepe waarin baie kreatiewe denke nodig is, baie handvaardigheid vereis word en ook moeilike besluitneming nodig is, veral as dit nodig is om visuele observasies te doen en daarvolgens op te tree, van die beroepe wat die veilig- ste is in die toekoms. Daar moet nog baie gedoen word om reke- naars of robotte se handvaardigheid net so goed soos die mens s’n te maak. Robotte se visuele identifikasie of uitkenningsver- moë gaan skynbaar nog lank te kort skiet. Om heeltemal nuwe konsepte uit te dink en baie kreatief te wees, sit ook nog nie in ’n robot se kop nie. Maar nou ja, enigiets is seker in die toekoms moontlik.
Om vir die toekoms bang te wees gaan jou natuurlik niks baat nie. Jy moet dit egter met oop oë benader, met meer omsigtigheid jou kinders se toekoms beplan, bepaal of jou beroep nie binnekort uitgedien gaan raak nie en dan ’n nuwe vaar- digheid aanleer of verder studeer. Miskien is dit nodig om net effens te verander, m.a.w. jy hoef dalk nie heeltemal van rigting te verander nie, net ’n aanpassing in die huidige een doen.
Daar wag baie nuwe dinge wat ’n mens kan gebruik om meer onafhanklik te leef, selfversorgend te raak en vryer te leef. Indien jy onafhanklik en selfversorgend leef, is jy in elk geval nie bang dat jy jou werk gaan verloor nie. ’n Mens het grond nodig, ’n huis op daardie grond, jy wil veilig wees en jy het kos en klere nodig.
- Rean Steenkamp
Bronne:
African Crises (http://www.africancrisis.org) 12 May 2016
World Economic Forum, Global risk Report, 2016
The Rise of the Robots – Technology and the threat of Mass Unemployment
Laat los tog net....
Daar is baie dinge in ’n mens se lewe wat jy kan laat los. Jy kan jou wrokke teen ander laat los, jou bitterheid oor dit wat ander jou aangedoen het, jou onvergifnis en die pyn wat dit veroorsaak. En jy kan jou vrees vir die toekoms laat los.
’n Mens kan jou afhanklikheid van iets of van ander laat los. Daar is baie nuttige dinge in die lewe, maar daar is ook baie goed wat jy dink nuttig is, maar wat eintlik net bydra tot die las wat jy dra. Hoe meer goed jy het, hoe meer dinge het jy om jou oor te bekommer. Minder dinge beteken meestal minder stres.
Wanneer jy ’n sielkundige besoek, word daar dikwels teruggegaan in jou verlede en die gebeure wat onaangename herinneringe by jou oproep. Dan dink jy: Het ek maar eerder dit gedoen of het ek liewer dat gedoen, en dit maal in jou kop rond. Partykeer is jy sommer van voor af kwaad vir iemand, al is die mens lankal nie meer deel van jou lewe nie. Vergeet daarvan. Laat dit los! Die kans is goed dat niemand anders dié gebeure meer onthou nie. Niemand onthou meer jou verleentheid nie, behalwe jyself.
In Suid-Afrika gaan dit miskien ook nodig wees om jou afhanklikheid van die stelsels wat jou daaglikse bestaan beïnvloed te laat los, soos kragvoorsiening, water en nog meer. Ons hoop nie dat sake gaan skeefloop nie, inteendeel, maar dit kan gewis nie skade doen om voorbereid daarop te wees nie. Baie mense wat al ’n entjie op dié paadjie geloop het, vertel hoe bevrydend dit is om meer selfversorgend te wees
Nie almal kan dadelik geheel en al selfvoorsienend raak nie. Baie mense bly in huise met ’n klein tuintjie of selfs in ’n woonstel. Almal kan egter tog beleef hoe dit voel om jou eie kos te plant, self gedeeltelik krag te voorsien en minder afhanklik te voel. Lees gerus die artikel “Begin met wat jy het” in die tydskrif.
Ons bly in ’n wêreld wat al hoe meer verbruikergeoriënteerd raak. Soms gebruik jy iets net een keer en dan word dit weggegooi. Dit is die doel van Laatlos om mense te oorreed om nie so maklik te verbruik nie en versigtiger met hulomgewing om te gaan. Koop eerder ’n produk wat herhaaldelik gebruik kan word. ’n Voorbeeld hiervan is skeermesse wat in pakkies gekoop word. Wanneer die skeermes se lem stomp is, word die hele skeermes weggegooi. Dit is ’n stuk plastiek wat nooit weer in die natuur afbreek nie. Waar eindig dit? Gebruik eerder ’n skeermes waarvan net ie lemmetjie vervang hoef te word. Só spaar jy nie net geld nie, maar dra ook minder by tot die besoedeling wat deur ons verbruikergerigte samelewing
veroorsaak word.
Daar is baie mense wat nie werk het nie. Van dié mense kan produkte maak wat deur ander gekoop kan word, soos skoene, klere of kos. Indien jy daarop ingestel is om produkte te koop by mense in jou omgewing en nie by groot ondernemings wat hul produkte in Sjina of elders laat maak en invoer nie, is jy besig om werk te skep en mense in jou omgewing te ondersteun.
Een ding wat jy net nie moet laat los nie, is jou geloof in God, ook nie jou omgee vir jou medemens of die natuur nie. Jy moet ook nie jou positiewe ingesteldheid verloor nie. Wanneer ’n probleem opduik, is daar altyd ’n oplossing daarvoor. Daar is ook antwoorde vir die eiesoortige probleme wat ons in Suid-Afrika ondervind – en om daardie antwoorde te vind, kan ’n groot avontuur en ontdekkingsreis wees.
– Rean Steenkamp