top of page

Hoe berei jy voor vir oorlewing?

Deur Ewalde Kriek

’n Goeie oorlewingsplan hang van drie interafhanklike dele af om werklik suksesvol te wees, naamlik beplanning, voorbereiding en oefening.

Oorlewingsbeplanning gaan oor die besef dat iets kan gebeur wat jou en jou geliefdes in ’n oorlewingsituasie kan plaas waarvoor stappe geneem kan word wat jou en ander se kanse op oorlewing drasties kan verhoog.

Met voorbereiding word bedoel dat jy fyn beplanning moet doen en jou oorlewingspakket moet ken om gereed te wees vir gebeurlikhede. (Die "pakket" kan 'n rugsak, 'n platiese houer, 'n kis of 'n tas wees.) ’n Plan sonder voorbereiding is net ’n plan en nie noodwendig uitvoerbaar nie.

Jou oorlewingspakket kan die bes uitgewerkte een op aarde wees, maar as jy nie weet hoe en waar om die items te gebruik nie, is dit van geen nut nie. Verder moet die items gereeld bygewerk word en in werkende toestand wees. ’n Twintig jaar oue kissie in die motorhuis gaan jou tien teen een in die moeilik- heid laat beland omdat baie van die items buite werking en selfs

gevaarlik kan wees.


Ek stel voor dat jy oefen om die items te gebruik, seker maak dat jy hulle kan gebruik en dat alles in ’n werkende toestand bly. Maak byvoorbeeld ’n vuur in die reën sodat jy weet jy kan in ’n noodsituasie warm bly. Hersien die mediese items en druk die gebruiksaanwysings uit sodat jy dit selfs onder die grootste druk veilig kan gebruik. Foute kan ’n lewe kos. Hou ook maar die ver- valdatums van die medikasie in gedagte.

OORLEWINGSPAKKET

Die omgewing bepaal die tipe items wat in die oorlewingspakket benodig sal word, en die grootte hang af van hoe dit vervoer word. Het jy ’n noodvoertuig of moet jy dit aan jou lyf dra? As jy dit aan jou lyf moet dra, gaan dit baie kleiner wees as een wat op ’n ander wyse vervoer word. Ek stel voor dat jy die pakket in lae pak, want dan sal jy weet wat om te vat of te los na gelang van omstandighede. Probeer die lewensnoodsaaklike items aan jou lyf dra (mes, kompas, GPS, vuurmaakitems ensovoorts). Plaas die minder belangrike items in jou pakket en die groot items in jou rugsak.

As jy die oorlewingspakket saamstel, is dit beter om veeldoelige, ligte, kompakte, duursame en, baie belangrik, funksionele items insluit. Onthou, ’n item wat goed lyk, is net bruikbaar as dit ook funksioneel is en doen waarvoor dit ontwerp is. Pak ook items wat mekaar aanvul in die lae, soos ’n aansteker aan jou lyf, magnesiumstokkie in die pakket en fyn houtjies of papier of stukkie kers in die rugsak.

Die oorlewingspakket hoef nie uitgebrei te wees nie. Al wat nodig is, is funksionele items wat aan jou behoeftes sal voldoen en ’n houer om dit in te plaas. Die houer is belangrik en behoort:

  • waterdig te wees

  • maklik om aan jou lyf pas/dra

  • geskik wees vir verskeie grote items en

  • duursaam en sterk wees.

    Die pakket behoort in die volgende kategorieë verdeel te word:

  • Water

  • Vuur

  • Skuiling

  • Mediese items

  • Items om seine mee te gee/kommunikasie

  • Diverse

     

Elke kategorie behoort uit items te bestaan wat in jou basiese behoeftes kan voorsien, byvoorbeeld, water: Daar moet items wees wat die verkryging van water deur skep, suig, opsuig, opvang (reënwater, kondensasie) moontlik maak. Dan benodig jy ’n houer vir die vervoer of dra en drink daarvan sowel as iets om dit in te kook of te suiwer.

Voorbeelde van items vir jou oorlewingspakket is:

WATER: Suiweringstablette, ongesmeerde kondome vir die dra van water, bleikmiddel, povidone-jodiumdruppels, sponsies, klein plastiese of rubberpypies, opvoubare waterhouers.

VUUR: Aansteker, waterdigte vuurhoutjies, magnesiumstafie, kerse, vergrootglas.

SKUILING: 550 valskermkoord, groot mes, kapmes of strydbyl, poncho, ruimtekombers, hangmat, muskietnet en ’n draadsaag.

KOS: Mes, strikdraad, vishoeke, vis- en striklyn, vleis- en hoenderblokkies, kitssop, energie- en Granolastafies, alumini- umfoelie, plastiese sakkies of houer.

MEDIES: Tablette vir behandeling van diarree en infeksie, chirurgiese lemme/messie, butterfly hegtingsmateriaal, lipsalf, haakspelde, kopspelde, malariamedikasie, verband, gaas, ont- smettingsmiddel, breëspektrum-antbiotika, oogsalf, antifungus- middel, ibuprofeen, petroleumgaas, pynstillers. Mediese items behoort meer as 50% van die oorlewingspakket uit te maak.

KOMMUNIKASIE: Spieël vir seine, ligfakkels, fluitjie, laser- wyser, blink kleefband, neonvlag, flitslig en sonkragkombers.

DIVERSE: Polskompas, naald en gare, geld, mes skerpmaker, kabelbinders, kurk, kamoefleerband en ’n oorlewingshandlei- ding.

As dit moontlik is, is ’n wapen van die een of ander aard ’n goeie idee, veral as jy in die veld is en vir kos kan jag of vis op ’n manier in die hande kan kry. Lees en oefen oorlewingstaktieke vooraf. Dink aan die omgewing waarin jy jou moontlik sal bevind en sorg dat jou oorlewingspakket geskik, duursaam, veeldoelig en liggewig is. Verbeelding kan die grootste en mees effektiewe deel van die oefening uitmaak – dit en die wil om te oorleef kan die

verskil tussen oorlewing en die alternatief wees.

Hoofbron: U.S. Army Field Manual 3-05.70 Survival

Foto 1.tiff
Foto 2.tiff
Foto 3.tiff
bottom of page