top of page
Small Heading

Bou 'n boog

 

Deur Rean Steenkamp

 

Om te jag is deesdae nie baie gewild nie. Wanneer ’n mens van jag praat, kyk baie mense jou kwaai aan en roep dit beelde by hulle op van dooie renosters, olifante, walvisse en robbe. Jag het amper ’n vloekwoord geword.

 

Die mensdom jag egter al vir duisende jare en die vleis wat op dié manier bekom is, was waarskynlik een van die grootste voedselbronne vir die meeste kulture op al die kontinente. In die diereryk word daar daagliks gejag – van klein mikroskopiese organismes wat ander mikroskopiese organismes eet, insekte soos die hotnotsgod asook spinnekoppe, mierleeus en vele ander wat jag maak op mekaar tot die groot predatore soos haaie, krokodille, wildehonde, luiperds en leeus wat vis, voëls en ander groter diere plattrek.

 

Ons kan nou maar een maal nie daarby verbykom nie: diere eet ander diere.  In die natuur teiken roofdiere meesal ook die siek, ou en jong diere. ’n Jakkals sal vir ’n bok wag om te lam en dan sal hy die bokkie probeer afneem, doodmaak en eet. Die meeste Westelinge se "Bambi-wêreld" is vér verwyderd van die realiteit. Dít egter eers daar gelaat.

 

Wat van belang is, is dat daar inherent niks met jag verkeerd is nie, net so lank ’n mens dit verantwoordelik doen. Om vir kos te jag, is so normaal soos om asem te haal. ’n Mens moet egter net diere jag waarvan daar ’n oorvloed is en jy moet dit jag om die dier te benut. In die verlede het baie mense sommer net iets doodgemaak, omdat hulle kon, en só het die natuur baie skade gely.

 

Sou ’n mens só gelukkig wees om ’n stukkie grond te besit, of iemand te ken wat op ’n plaas bly, kan ’n mens jou yskas aanvul met gesonde vleis deur so nou en dan ’n patrys, fisant of tarentaal plat te trek of om ’n bok te skiet. Wildsvleis is nie besmet met al die hormone en toksiene wat baie keer in beesvleis of hoendervleis opgespoor kan word nie.

 

’n Boog is ’n ideale wapen om te gebruik. ’n Mens kan jou eie boog baie goedkoop bou en die pyle waarmee ’n mens oefen of jag kan oor en oor gebruik word.

 

’n Duur kompakte of "compound" boog werk natuurlik baie goed, maar dis ’n duur wapen om aan te koop en indien die boog skade sou opdoen, jaag dit ’n mens heelwat uit die sak om dit reg te laat maak. ’n Tradisionele boog, dus ’n langboog of gekurfde boog bestaan uit minder dele en die kanse dat iets verkeerd kan loop of breek, is baie minder. Wanneer ’n mens egter jou eie boog kan bou en jou eie snaar kan maak, is dit die beste. Dan is jy nooit sonder ’n effektiewe jagwapen nie.

Daar is iets terapeuties daaraan om boog te skiet – en dit is gewis ook die geval met boogbou. Om met die hout te werk en dit versigtig in ’n boog te omskep, is ’n wonderlike ervaring. ’n Mens begin met ’n harde en onbuigbare plank waarop jy die plan vir die boog teken. Dan begin jy stadig the boog afwerk met 'n vyl en skraaplem. Die hout word versigtig van die middel na die punte verwyder totdat die plank begin buig.

 

Gedurende die proses word die buig van die boog gemeet om seker te maak dat die boog in ’n egalige D-vorm buig. Die boog word stadig in sy buig in gewerk en die hout word bykans geleer om ’n boog te word. Indien ’n mens nie versigtig te werk gaan nie, word die boog baie gou ’n spaan om pap mee te roer. Word die boog egter reg gebou, word dit ’n dodelike wapen en ’n instrument waarmee ’n pyl oor ’n lang afstand geskiet kan word. ’n Houtboog wat reg gebou is en wat elke keer weer terugkeer na sy oorspronklike vorm wanneer die snaar afgehaal word, is iets wat ’n mens se hartsnare roer en jou terug laat verlang na tye wat jy nooit beleef het nie. Wanneer jy die snaar terugtrek, die pyl laat los en die houtpyl soos fluistering uit die boog vlieg en die teiken tref, sal jy weet waarvan ek praat.

 

Lees meer oor hoe om ’n boog te bou by: www.africanarcher.com – een van ons webtuistes wat op tradisionele boogskiet fokus. Cleve Cheney verduidelik hoe ’n mens ’n gewone houtboog bou, maar ook hoe ’n mens ’n veselglas en hout-gelamineerde boog kan bo. Só ’n boog lyk net soos ’n gewone houtboog, maar skiet baie verder, is meer kragtig en hou ook heelwat langer. Op dié webtuiste is daar meer as 200 artikels oor tradisionele boogskiet en boë, asook inligting oor byeenkomste wat gehou word waar boogskutters bymekaar kom en saam skiet.

 

Hardebaard sal egter ook in ’n volgende artikel wys hoe só ’n boog gebou word.

Van die gereedskap wat gebruik word om ’n boog te bou.

bottom of page