top of page

Die aard van SELFSTANDIGHEID

Figure 1The Johnston homesteaders.jpg

Deur Cleve Cheney

 

Ek het onlangs tydens ’n veldwerktoer na die Karatara-gebied in die Knysnabos die voorreg gehad om ’n klompie van die mense daar te ontmoet wat gekies het om die pad van selfstandigheid te stap. Dit is nie ’n maklike pad nie en dit verg spesiale mense wat besluit om so “off grid” as moontlik te leef en onafhanklik van die sisteem te wees waarvan die meeste mense feitlik geheel en al afhanklik is. Moet egter nie deur romantiese idees om die bos gelei word nie. Dit kan ’n swaar lewe wees. Dit is veeleisend. In my gesprekke met hierdie mense het daar sekere karaktereienskappe na vore gekom wat hulle onderskei van die “skape” wat gedweë die gerieflike stroom volg wat die sisteem vir hulle uitstippel. Dit het my opgewonde gemaak om jong mense te ontmoet met ’n hunkering na vryheid en onafhanklikheid wat die voor- en nadele deeglik opgeweeg het en hulle nie laat afskrik deur die uitdagings waarvoor hulle te staan kom nie. Solank daar mense van dié kaliber is, is daar hoop.

 

Hulle het ’n onafhanklike gees

Mense wat die weg van selfstandigheid kies, het ’n vurig onafhanklike gees. Hulle maak nie op ander staat om hulle handewerk of dinkwerk vir hulle te doen nie, hulle doen dit self. Hulle staan nie bakhand vir die aalmoese wat die sisteem hulle bied nie.

 

Hulle is (ekstra) hardwerkend

Persone wat ’n meer selfstandige leefstyl kies, begin aanvanklik deur voltydse poste elders te beklee terwyl hulle hul blyplek ontwikkel met die uiteindelike doel om van die huis af te werk. Een egpaar, wat gereeld bydraes tot hierdie tydskrif lewer, ry elke dag van hulle huis diep in die Knysnabos af na George en Knysna. Die paaie diep die bos waarop hulle moet ry, word moerasse as dit reën en is slegs begaanbaar met ’n viertrekvoertuig in lae eerste rat. Hulle bestee hulle aande, naweke en vakansies aan die bou en inrig van hulle woonhuis, wat reeds onafhanklik van die sisteem is en besig is om vorm aan te neem. Aan die begin was dit net ’n kleinerige hut. Hulle is hardwerkend en verrig die meeste van die hardearbeid self of met die hulp van vriende. Hulle kan dit nie bekostig om hulp te huur nie, maar selfs al kon hulle, verkies hulle om dinge self te doen. Hulle is nie bang om hulle hande te laat vuil word nie. Een van die belonings van harde handewerk is dat hulle gesond en sterk is na liggaam en gees. 

 

Hulle is goed ingelig 

Die gevaar bestaan dat mense wat kies om uit die hoofstroomsamelewing pad te gee en ’n eenvoudiger “agtertangse” leefstyl te volg, as “nie so slim nie” of “kluisenaars” gestereotipeer word. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Ek het gevind dat hierdie mense hoogs intelligent is – intelligent genoeg om die sisteem te bevraagteken, te vind dat dit erg te kort skiet en ontoereikend is, en dan kies om op ’n ander manier te leef. Hulle is onafhanklike denkers wat buite die gewone norm dink en nie deur die propaganda en leuens mislei word wat die sisteem aan hulle opdis nie. Hulle is goed ingelig oor plaaslike en internasionale gebeure en neigings en sien deur die dun lagie vernis van die beskawing. 

 

Hulle het ’n doel voor oë

Hulle lewe is nie ’n saai, eentonige bestaan waarin hulle maar tevrede is met wat na hulle kant toe kom en die bestemming aanvaar wat die sisteem vir hulle uitstippel nie. Hulle karteer hulle eie pad – baie soos die pioniers van die ou dae wat weggetrek het om nuwe grondgebied te vind en hulle daar te vestig. Hierdie jong mense het duidelik omskrewe doelwitte wat hulle op die lang duur baie groter selfstandigheid sal laat bereik. Hulle besef en aanvaar dat tussen nou en daardie doelwit daar swaar en uitdagende tye lê en hulle aanvaar dit so. Die doel van onafhanklikheid en selfstandigheid hou belonings in wat gewis die moeite werd is.

 

Hulle kan probleme oplos

Ek was beïndruk deur hierdie jong “soekers na onafhanklikheid” se vermoë  om probleme op te los. Hulle word nie deur probleme afgeskrik nie, maar bedink vernuftige oplossings. Hulle beskik dikwels nie oor die finansiële  hulpbronne om “kundige” hulp te bekom nie en moet dinge vir hulleself uitpluis. Dit maak hulle op die ou end probleemoplossers van naam wat weet hoe om te improviseer en oplossings te kry.

 

 

Hulle het verskeie vaardighede

Die meeste persone in die moderne samelewing het slegs beperkte vaardighede en is hoogs afhanklik van ander. Die probleem lê  by spesialisasie. Iemand is opgelei om ’n mediese dokter of ’n IT-tegnikus of ’n vlieënier  of wat ook al te wees en hy kan baie goed daarin wees, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat hy ’n stukkende waterpomp sal kan regmaak, ’n windpomp kan oprig, ’n koei kan melk, sy pad in die bos kan vind, ’n byl kan maak, ’n sonpaneel kan installeer, kan sweis, ’n stukkende trekker kan herstel of enigiets anders kan doen. As daar ’n elektriese stelsel geïnstalleer moet word, roep hy ’n elektrisiën in. Sy motor word by die plaaslike werkswinkel gediens of herstel; hy koop ’n mes by Trappers en melk in ’n bottel by die supermark.

 

Mense wat op selfstandigheid ingestel is, beskik oor ’n wye reeks vaardighede – bouwerk, veeboerdery, houtwerk, meganiese aanleg, mediese kennis, bosvaardighede, boerdery en tuinmaak en het selfs kennis van “primitiewe vaardighede” soos “grofsmidswerk”. Vir diegene van julle wat nie weet wat dit is nie, dit is om implemente en gereedskap uit yster te maak met gebruik van ’n smidsoond, blaasbalk, aambeeld en hamer. Ek het gefassineerd toegekyk hoe ’n ou, afgeleefde vyl warm gemaak en tot ’n baie bruikbare mes gehamer word, en hoe ’n geroeste en weggegooide rondekophamer ’n byl geword het. Hoeveel mense in die moderne samelewing beskik oor hierdie en ander vaardighede waarvan die lewe voorheen afhanklik was en in die toekoms moontlik weer afhanklik kan raak? Die opstalbewoners wat ek in die Knysnabos raakgeloop het, beskik oor ’n breë vaardigheidsbasis benewens enige formele opleiding wat hulle vir ’n beroep mag ondergaan het. Hulle leefstyl vereis dit.

 

 

Hulle is taai en dapper 

Hulle word nie deur uitdagings van stryk gebring nie. Hulle kies nie ’n “sagte en vertroetelde” lewe nie. Een van die jong vroue van wie ek vroeër gepraat het, is ’n gekwalifiseerde ingenieurstegnikus en ry elke dag George toe en terug na hulle huis in die bos. Sy is agt maande swanger, en sy en haar man het besluit dat sy by die huis geboorte gaan skenk, met die hulp van ’n vroedvrou. Dit verg moed. Die kind sal ook later tuisonderrig ontvang. Dit verg inspanning en deursettingsvermoë. Om ’n huis in die bos te bou verg moed. Haar man het my vertel dat al die klip, sand, sement, hout en elke stukkie boumateriaal na hulle huis aangery is met die smal, dikwels modderige bospaadjies langs in sy Land Rover wat reeds meer as 400 000 kilometer afgelê het! Om nie TV, ’n skottelgoedwasser, haardroër of wasmasjien te hê  nie – alles dinge wat deur moderne huishoudings as “noodsaaklikhede” beskou word – verg moed. Daar moet iets baie sterk wees wat hierdie mense aandryf. Hulle het ’n visioen van ’n beter lewe aangegryp. ’n Meer onafhanklike lewe. Een waarmee hulle kan volhou selfs as die sisteem ineenstort.

 

 

Hulle is gemeenskapsgeoriënteerd

Een ding wat my werklik beïndruk het, was dat hierdie mense “gemeenskapsgeoriënteer” is. Hulle gee vir mekaar om. Hulle het tyd vir mekaar en kuier by mekaar. Hulle help mekaar dikwels met ’n “projek”, of dit nou is om ’n huis te bou, ’n land aan te plant, diere te vaksineer, ’n masjien te bou of ’n stukkende ploeg reg te maak. Hulle is vrygewig en gewillig om te deel wat hulle het.

 

Hoewel hulle as individue onafhanklik is, is daar ’n breër besef van “familie” en “onderlinge ondersteuning” waar gesinne sonder aarseling hulle bure te hulp sal snel. Hoe anders is dit as die stadsomgewing waar bure mekaar dikwels nie eers ken nie en eerder nie betrokke sal wil raak as iemand hulp nodig het nie.

 

Dit was vir my ’n voorreg om ’n klompie van die Karatara-opstalbewoners te ontmoet. Dit is mense met besondere karakter. Ek bewonder hulle omdat hulle uitleef wat hulle in wese is.

 

Figure 3 Forge and foot vice.jpg

Die smidsoond en voetskroef wat Charles Lewis gebou het. Die opstalbewoners beskik oor uiteenlopende vaardighede.

Figure 2 Off Grid.jpg

Die Johnstons gebruik sonkrag en gas vir al hulle energiebehoeftes.

Figure 4 Blacksmithing.jpg

Anton du Plessis aan die werk by die smidsoond en aambeeld.

Figure 5 Tools.jpg

Figure 5: Anton het ou, geroeste gereedskap wat andersins weggegooi sou word, in baie bruikbare artikels verwerk: ’n trekmes, twee gewone messe en ’n pragtige byl.

bottom of page